Varsity Cup | Home

Oupa trots op Shimlas

FNB UFS-Shimlas kaptein Oupa Mohoje was gelukkig ná sy span se klinkende oorwinning van 38-18 oor FNB NWU-Pukke in Bloemfontein.

 

"Ons was dit aan onsself verskuldig. Die manne het alles gegee om hierdie oorwinning te behaal,"  het die kaptein gese.

Mohoje, wat reeds by die Vrystaat-Cheetahs se senior bestuurlui verskeie regmerkies vir sy vurige spel en sterk leierskap by die FNB UFS-Shimlas gekry het, het soos ’n goeie generaal van die voorpunt af teen die FNB NWU-Pukke gelei.

Sy skitterdrie net voor rustyd onder die  NWU-Pukke se pale het die skaal in die Shimlas se guns begin swaai. Dit het verseker dat hulle die tweede helfte met ‘n goeie voorsprong van 12-0 kon begin.

Die Shimlas-kaptein wil nie die lof hê nie.

"Dit was ’n spanpoging. Al vyftien manne  op die veld het hul als gegee," het hy verduidelik.

Vir Mohoje is die oorwinning met ’n bonuspunt vir die drieë wat sy span gedruk het, die beloning  vir maande se die harde werk, wat hulle  in die voor-seisoen en vanjaar gedoen het.

"Ons het hard gewerk en pluk nou die vrugte en na die oorwinning sal ons ook met groter selfvertroue die oorblywende wedstryde aandurf," het hy gesê.

Die doelgerigte toegewyde spel wat sy spelers op die veld gelewer het, is vir die kaptein ’n riem onder die hart.

Die plettervatte van agter- en voorspelers wat die NWU-Pukke verskeie kere teruggedryf het, is volgens hom ’n bewys daarvan.

Die vurige kaptein is ook opgewonde oor die feit dat die plaasvervangers, soos hulle weens beserings en ook met taktiese plaasvervanging gebruik is, ook  meer as hul kant gebring het.

Charles Marais moes by Schalk van der Merwe as loskopstut oorneem en het net soos plaasvervangers Lebo Zietsman, Kay-Kay Hlongwane, Freddie Ngoza, JC van Wyk, Luan de Bruyn en ander gewys hulle kan hul man staan.

Mohoje en sy span weet hulle moet ook albei hul oorblywende FNB Varsitybeker-wedstryde teen die FNB Ikeys van UK Maandag in Bloemfontein en FNB UJ in Johannesburg wen om in die wedloop om die titel te bly.

"Dit is ononderhandelbaar. Ons moet wen om bo uit te kom en almal weet dit. Ons gaan ons beste gee," het hy belowe.

Voor die kragmeting teen die FNB NWU-Pukke het die span se voorspelers-afrigter, Hendro Scholtz, die wens uitgepreek dat die voorspelers soos die Bulls verlede week teen die Western Force op Loftus Versfeld in die Superrugbyreeks moet dryfmaal.

Die UFS-Shimlas-agttal het gehoor gegee, want met die drie van Maphutha Dolo het die Shimlas vanuit ’n lynstaan so ’n maaldryf-beweging optou gesit en 20 meter ver gevorder vir Dolo om in die hoekie oor te gaan.

Afrigter Barry Goodes het ook rede tot tevredenheid gehad. Van die groot uitblinkers was hierdie keer in die agterlyn en veral op losskakel het Pieter-Steyn de Wet, danksy ’n uitstekende diens deur Renier Botha, sy agterlyn blitsig weggestuur.

Spelers soos Robbie van Schalkwyk en Nico Scheepers het hul beste spel tot dusver in die reeks gelewer.

Joomla Random Flash Module by DART Creations