Varsity Cup | Home
Ixias soek perfekte seisoen
- Details
- Created on Thursday, 07 March 2013 12:32
Die FNB SUT Ixias wil al agt van hulle ligawedstryde in die FNB Varsityskild-rugbyreeks wen.

Dit is die besluit waarmee die Ixias hul afrigters, Skillie Bester en Jan de Toit, gekonfronteer het voor hul vertrek na die Kaap waar hulle die sterk span van FNB UWK op hul tuisveld moes gaan aandurf.
Dat kaptein Inus Kritzinger en sy troepe vasbeslote is om die teiken te behaal, word in die sege van 49-40 geweerspieël. Die Ixias het nie minder as drieë sewe gedruk nie en vyf afgestaan en dit terwyl hulle weens kaarte (geel en rooi), wat deur die skeidsregter uitgedeel is, selde voltallig op die veld was nie.
Vir die FNB Ixias se breiers moet hierdie positiewe en doelgerigte benadering van hul spelers baie bemoedigend wees.
Dit is in die agttal veral deur die flank, Frans Sisita, bewys. Die losvoorspeler het die veld vol gespeel en dit sal niemand verbaas as hy in die toekoms hoër louere verwerf nie.
"Sisita was die groot uitblinker in die agttal. Hy lewer wedstryd na wedstryd klipharde en uitstekende spel. Hy is veral goed deur Andrew Bester en Moekoa Bolofo ondersteun. Ek is baie tevrede met hul inklimspel," het Bester ná die wedstryd gesê.
FNB Ixias se agterlyn is ook besig om in 'n gedugte eenheid te ontwikkel en aan die voorpunt was Johan van Schalkwyk. Die senter het drie van sy span se drieë gedruk en is as Speler van die Wedstryd aangewys.
"Behalwe Van Schalkwyk het sy sentermaat Leon Pretorius en Charlie Hitchcock ook uitgeblink," het die afrigter van die span gesê.
Bester is ook verlig dat geen van sy spelers ernstige beserings opgedoen het nie en dat hy dus 'n volsterkte span sal kan kies vir Maandag se kragmeting met die Impi van FNB UKZN in die SUT-stadion in Bloemfontein.
Omdat die FNB steeds die enigste onoorwonne span in die FNB Varsityskildreeks is, gaan dit nie veroorsaak dat hulle nie oorgehaal en vasbeslote teen die Impi sal wees nie.
"Hulle het ons in die eerste ronde in Pietermaritzburg harde bene laat kou. Ons verwag ’n baie sterk aanslag Maandag en gaan geensins gerus of met te veel selfvetroue op die veld draf nie," het Bester gesê.
Die moonlikheid bestaan wel dat hy van sy spelers sal roteer om hulle ruskans te gee.
Deur Georg van Eck












