Varsity Cup | Home
Geweldige aanslag vir Ixias
- Details
- Created on Friday, 01 March 2013 13:18
Die FNB SUT Ixias se onoorwonne status gaan Maandag op die spel geplaas word teen FNB UWK, wat self nog nie in Bellville verloor het nie.

"Die rugbyspan van FNB UWK is met sy rug teen die muur en dit maak die Kaapse span baie gevaarlik en ons verwag 'n geweldige aanslag van hulle op hul tuisveld voor hul eie ondersteuners in die Kaap," het Skillie Bester, hoofafrigter van die FNB Ixias gesê.
"UWK is altyd op hule heel beste wanneer hulle onder druk is. Ons het die les verlede jaar geleer en weet dat die span se afrigter, Peter De Villiers, ook met nuwe planne vorendag sal kom."
Die feit dat die FNB Ixias die onoorwonne voorlopers in die reeks is, maak Bester en sy mede-afrigter, Jan du Toit, geensins gerus nie.
"Daar is nie iets soos 'n maklike wedstryd nie. As 'n span oorgerus is en nie reg ingestel is nie, kan hy slae kry," het Bester verduidelik.
FNB Ixias gaan Kaap toe met net een doel voor oë en dit is om met hul heel beste spel vorendag te kom en hul onoorwonne status behou. In die aanslag sal die lostrio van Frans Sisita, Moekoa Bolofo en Juan Hugo 'n sleutelrol speel, want dit was waar hulle die Kapenaars verlede keer behoorlik getroef het.
Die terugkeer van Andrew Bester as slot versterk die Ixias se agttal gewis. Hy is nie net 'n uitstekende lynstaanspringer nie, maar speel die veld vol. Hy sou waarskynlik die Speler van die Wedstryd gewees het teen FNB UKZN in Pietermaritzburg as hy nie sy skouer in die wedstryd ontwrig het nie.
Bester vervang Ruan Lombard, wat na die bank toe skuif. In die agterlyn word die senter Leon Pretoius 'n ruskans gegun en hy word in die middelveld deur Charlie Hitchcock vervang. Pretorius sal op die bank wees.
Dean Kauprihanoff (losvoorspeler) is ook terug op die plaasvervangerbank nadat hy verlede week uithalerspel as agtsteman vir die Tjsias (SUT se naasbeste span) in die Vrystaatse Uitdaagbeker-reeks gelewer het.
"Kauprihanoff kry nou die kans om te wys wat hy weer 'n plek na sy besering vir die Ixias verdien," het Bester verduidelik.
Die feit dat die FNB Ixias se afrigter geen drastiese veranderinge aan die span aangebring het nie, wys dat hulle tevrede is met die span se vordering, samespel en benadering.
In die Ixias se vorige Varsityskild-wedstryd teen FNB UWK het 25-10 gewen en hulle wil op daardie vertoning in Bloemfontein voortbou.
FNB UWC: 15 Daniel Bock, 14 Donovan Williams, 13 Kenwin Weiner, 12 Lubabalo Faleni, 11 Justin Mckay, 10 Charl van Vollenhoven, 9 Frederick Muller, 8 Heinrich Marcus, 7 Sebenza Maphumulo, 6 Njabulo Ndlovu, 5 Methetheleli Fuzani, 4 Pallo Manuel, 3 Kelvin de Bruyn, 2 Charlton van Jaarsveld (captain), 1 Curtis Beukes.
Replacements: 16 Ludwe Ntlokondala, 17 Samuel Borsah, 18 Jose Julies, 19 Darren Luiters, 20 Denzel Willemse, 21 Quaid Langeveldt, 22 Tshepo Manaka, 23 Siphiwokuhle Bakeni.
FNB CUT: 15 Kholo Ramashala, 14 Charles Hitchcock, 13 Johan van Schalkwyk, 12 Leon Pretorius, 11 Meyer van Tonder, 10 Noel Marx, 9 Inus Kritzinger (captain), 8 Juan Hugo, 7 Frans Sisita, 6 Moekoa Bolofo, 5 Andrew Bester, 4 JJ Nel, 3 Petri Coetzee, 2 Deon Gouws, 1 Carl Gersbach.
Replacements: 16 Rudi Fuls, 17 Francois Bender, 18 Levette Shikwambana, 19 Dean Kauprihanoff, 20 Christoff Swanepoel, 21 Brian Malakeane, 22 Maphelo Mpondo, 23 Danie van der Merwe.
Date: Monday, March 4
Venue: UWC Sports Stadium, Bellville
Kick-off: 7pm
Referee: Juan Sylvestre (Argentina)












