Columns
Wat beteken Varsitybeker vir jou?
Die Varsitybeker-kompetisie beteken baie dinge vir baie mense. Of anders gestel, daar is iets vir elkeen in die kompetisie.

Vir spelers, wat weekliks die hoofrolle op dramatiese wyse op die groot verhoog uitspeel, is die kompetisie die gepaste toonvenster van hul talente en vaardighede.
Vir afrigters is dit die ideale leerskool om dinge te beproef en teorie in praktyk werkbaar te probeer maak. Dit is ook ongelukkig vir 'n paar van hulle 'n begraafplaas! Varsitybeker = breierbegraafplaas!
Vir die administrateurs is dit eweneens 'n leerskool/slypskool waar waardevolle ondervinding opgedoen word en vingers selde twee keer verbrand word. Hoe lekker prakties kan ‘n kursus in sportbestuur nie hier toegepas word nie.
Universiteitsbestuur het lankal ingekoop, met die vlak daarvan dikwels meetbaar in die prestasie van daardie instelling in 'n betrokke jaar. Ek het al die voorreg gehad om in die onlangse verlede na die Tuks-rektor, porf. Cheryl de la Rey, te luister as sy oor die UP-Tuks se span praat.
Glo my, trots en doelgerigtheid slaan duidelik deur en dit is geen wonder die huidige kampioene se spel ook daardie karaktereinskappe openbaar nie.
Vir my en jou - die toeskouers - is daar ook iets te vinde. Of dit nou 'altyd lente in die oë van die Stellenbosch studente' is of dalk die soektog na die volgende Eben Etzebeth vir iemand soos Dawie Theron, elke Maandag bring sy sarsie opwinding, passie, drama en onvoorspelbaarheid.
Vir my bring dit nog 'n geleentheid om die spel rugby te beleef, om die talent op die veld te waardeer en die fantastiese interaksie wat dit bring, persoonlik te ervaar.
Dit bring ook kopseer, want na elke Maandag moet ek 'n span kies! En tot dusver was daar soveel uitblinkers, dit raak toenemend moeiliker om die 15 uitverkorenes te benoem!
Wat dinge natuurlik ook moeiliker maak is dat ek nie noodwendig insae het oor die wedstrydplan of taktiek vir ‘n betrokke wedstryd nie. Ek oordeel dalk ‘n slot omdat hy meestal in die agterlyn boer, maar dit was dalk ‘n opdrag van die afrigter dat hy as baldraer ‘n spesifieke area moet teiken.
En so kan ons aangaan. Ook hoe ‘n speler binne ‘n bepaalde kombinasie funksioneer.
Wat ookal die motivering of opdrag was vir die Madibaz se lostrio, ek het lanklaas drie spelers gesien wat mekaar so aangevul het as afgelope Maandag teen Maties.
Tim Agaba, Stefan Willemse en Simphiwe Shabangu was soos ‘n Siamese drieling en hul aanvoeling absoluut ongelooflik.
Dit was my eerste kennismaking met al drie en veral Agaba se voorgevoel en vermoë om op die regte tyd op die regte plek te wees, het opgeval.
Hy kom van Oos-London af en was op HS Stirling. Hy het Grens Cravenweek in 2007 gespeel, maar verder is my inligting oor hom maar skraps. Kan iemand my dalk meer vertel van ons uitskieter van die week?
Agaba en Willemse het vir hulle ‘n plek in my span losgespeel.
Die week se span is: 15 Dillyn Leyds (Ikeys), 14 Luther Obi (Pukke), 13 William Small-Smith (Tuks), 12 Howard Mnisi (NMMU), 11 Courtnall Skosan (Tuks), 10 Justin van Staden (NMMU), 9 Freddie Muller (UWK), 8 Tim Agaba (NMMU), 7 Stefan Willemse (NMMU), 6 Shaun Adendorff (Tuks), 5 Reniel Hugo (Maties), 4 Louis Fourie (NMMU), 3 Nic Schonert (Shimlas), 2 Martin Ferreira (NMMU), 1 Sti Sithole (Ikeys).
Deur JJ Harmse














