Columns

Juig, maar met grasie!

Die passie van Varsitybeker loop diep. Daaroor kan daar weinig twyfel wees skryf JJ Harmse.

Ek het dit afgelope Maandag weer duidelik beleef toe FNB Maties en FNB UP-Tuks mekaar tot in die laaste sekonde van die laaste beweging van 'n klipharde wedstryd in die grond in gespeel het.

Die reaksie agterna, veral op Twitter en hoofsaaklik (om verstaanbare redes) Maties ondersteuners, was vol vreugde, trots en ongelukkig selfs, bietjie venyn.

Iemand met die statuur van oud-Bok Rob Louw het selfs 'n tweet uitgestuur waarin hy die Maties gelukwens het omdat "amateurs beat the pro Bulls team".

Wat probeer hy sê? Meen hy UP-Tuks buig die reëls van die kompetisie? Is hy die enigste wat dit glo of is dit 'n algemene persepsie in Matieland? Het hy bewyse of stook hy net die vure van emosie? En as hy bewyse het, hoekom lê hy dit nie voor nie?

Miskien sou dit almal loon om eers te luister na die manier waarop die Maties-kaptein, Helmut Lehmann, sy ervaring van die sege kon uitdruk.

Onthou, niemand het die puik sege meer aan sy bas gevoel as die rooikopflank self nie. Dit was hy wat homself vir 80 minute sonder vrees vir sy eie gesondheid in elke duikslag gegooi het. Dit was Lehmann wat in die laaste loopgraaf en tot in die laaste minuut geveg het vir sy span en sy spanmaats.

Dit was ook Lehmann wat agterna met groot lof van sy span en hulle wilskrag en 'guts' gepraat het. Wat almal skynbaar nie gehoor het nie, was die manier waarop Lehmann vir UP-Tuks geloof het. Hy het dit duidelik gestel dat hulle altyd die beste van jou vra en indien jy dit nie gee nie, jy hulle nie sal klop nie.

Hy het genoem dat mense dalk nie op TV kan sien hoe fisiek hierdie wedstryd is nie, maar dat beide spanne kan terugstaan en na die tyd waardering kan betoon vir die hoogtes waartoe hulle mekaar aangespoor het.

Na 80 minute van alles gee het Helmann steeds die nederigheid behou wat wenners laat uitstaan en nie vergeet nie dat dit twee spanne verg om 'n wedstryd spesiaal te maak. Welgedaan aan Helmut.

Baie geluk ook aan FNB TUT wat uiteindelik medisyne vir sy verloorkoors gekry het. Die span se sege oor FNB UWK was net op die regte tyd in die Skild-reeks en behoort aan TUT 'n ongemaklike teenstander vir die res van die spanne te maak.

Siende dat komplimente aan die orde van die dag is, baie geluk ook aan Kobus de Kock wat vier drieë teen die Witsies gedruk het. Een of twee was dalk maklik, maar die ander het die kookwater-heelagter se voorgevoel beloon. En dit, sal elke afrigter jou vertel, is nie iets wat jy by 'n speler kan afrig nie.

Daardie vermoë op op die regte tyd op die regte plek te wees of om die regte ding te doen, is inderdaad nie iets wat jy in die gimnasium gaan aanleer nie. Jy het dit of nie. En De Kock het dit duidelik, daarom kies ek hom vandeesweek in my uitblinker XV.

My span vir die week is: 15 Kobus de Kock (UJ), 14 Luther Obi (NWU-Pukke), 13 Bradley Moolman (UJ), 12 Howard Mnisi (NMMU), 11 Courtnall Skosan (UP-Tuks), 10 Justin van Staden (NMMU), 9 Freddie Muller (UWK), 8 Timoty Agaba (NMMU), 7 Carel Greeff (Wits), 6 Shaun Adendorff (UP-Tuks), 5 Reniel Hugo (Maties), 4 Louis Fourie (NMMU), 3 Luan de Bruin (UFS-Shimlas), 2 JC Oberholzer (NWU-Pukke), 1 Sti Sithole (UCT).

Deur JJ Harmse

Joomla Random Flash Module by DART Creations