Patria gaan eindstryd toe

NWU-Pukke se Patria het Maandagaand op die Fanie du Toit-sportterrein met swier deurgedring tot die eindstryd van die 2011 Steinhoff-koshuisliga toe hulle Ikeys se Tornadoes 20-6 verslaan het.

En, verslaan is gewis die regte woord.

Eerstens het Patria, dis nou die manne wat nie gespeel het nie, hemploos met hul gebruiklike oorlogskreet vir die Tornadoes 'n voorsmakie gegee wat op hulle wag.

Wilco de Wet, losskakel, kon met 'n strafdoel sy span eerste op die telbord kry voor sy Tornadoes-eweknie, Doug Mallett, die telling waterpas getrek het en met 'n tweede slaag om die Kapenaars die voortou te gee.

Van hier af was dit die Blou Masjien. (Lees die verslag hier.)

Lodewyk Uys, slot, het met 'n skitter lopie net langs die hoekvlag oorgeduik en De Wet het van die kantlyn af verdoel.

Die Namibiese buitesenter, Johan Deysel, vermag toe die haas onmoontlike deur al wat Tornadoes-verdediger is 'n rat voor die oë te draai en die beste drie te druk wat die Fanie in maande gesien het.

Hy trap dié kant toe, dáái kant toe, versnel, gooi remme aan, versnel weer. Dit was iets om te sien.

De Wet sit die Gilbert oor die dwarsbalk en Patria loop 17-6 voor met lemoentyd.

Dis dan ook De Wet wat vir die enigste punte in 'n uitmergelende tweedehelfte sorg deur met 'n strafdoel te slaag.

Die Tornadoes se agterlyn was deurentyd vol vernuf, maar geheel gesiem was hulle nie opgewasse teen Patria se fisieke aanslag nie.

Patria sal Maandagmiddag by die LC de Villiers-stadion in Pretoria poog om een stap verder te gaan wanneer Maties se Simonsberg aangedurf word.

Dié kragmeting, wat regstreeks uitgesaai word, sal as voorwedstryd vir die Varsitybeker-eindstryd tussen Tukkies en Ikeys dien.

"Ek kan nie beskryf hoe dit voel nie. Ek het na die tyd eers besef wat ons vermag deur tot die finaal deur te dring van 'n nasionale kompetisie en een van die toptwee koshuise in die land te wees," het Patria se prim en losvoorspeler, Jean Olivier, gesê aan varsitycup.co.za.

"Ons afrigters het na die tyd vir ons gesê dit is die grootste ding wat ons kon bereik het.

"Ek is baie opgewonde oor volgende week se eindstryd, daar is heeltyd skoenlappers in my maag.

"Ons afrigters verdien al die krediet vir die wen. Ons het drie weke af gehad, maar hulle het seker gemaak ons is reg.

"Die manne het dit Maandagaand as 'n eenheid deurgetrek. Teen die einde kon ek nie meer my bene voel nie, ek kon skaars opstaan, maar ons speel vir mekaar en ons speel vir ons koshuis. Dis wat die verskil gemaak het."

Deur Bertie Jacobs

Joomla Random Flash Module by DART Creations