JBM troef in tweede helftes
Huis JBM het verlede week weereens die smaak van oorwinning geniet op die rugbyveld met onderskeie seges oor Heimat en Karee in Kovsies se Steinhoff Koshuisrugby-liga.

Die 'Huis van Meesters' het vir Heimat, wat tot en met dié week nog bo aan die koshuisranglys was, verlede Dinsdagaand met 23-22 geklop.
Hierdie was soos meeste van die wedstryde waarin Heimat speel - 'n baie fisieke wedstryd. Die af-kampus koshuis was dus van die afskop af die dominante span op Shimlapark. JBM het eers minute voor rustyd begin om met die spel by te hou.
Teen rustyd was die span van JBM 19-9 agter en het hy egter nog net kanse gehad om die pale op te soek met twee strafdoele en 'n skepdoel. Dit, in vergelyking met Heimat se drie drieë, waarvan twee verdoel is.
Na afloop van rustyd het die spel gedraai en het JBM die wedstryd in hul eie hande geneem. Heimat kon in die tweede helfte slegs 'n enkele strafdoel by hulle punte voeg. JBM het aan die ander kant 'n drie en nog drie strafdoele aangeteken voor die eind-fluitjie kon blaas.
So het JBM ook opgemaak vir 'n teleurstellende eerste helfte in hul wedstryd teen Karee, Vrydagaand op Shimlapark, deur ten einde 17-10 te wen.
Net soos in die stryd teen Heimat, het JBM die tweede helfte 10-7 agter Karee binne gegaan. Karee het ook die eerste helfte gedomineer en vroeg al die pale opgesoek met 'n suksesvolle strafdoel en later ook 'n drie. Na rustyd kon hy nie weer punte byvoeg op sy telbord teen JBM nie. JBM het hier weereens bewys dat hy verseker 'n span is wat in die tweede helfte met sy teenstander afreken omdat hy aanhou speel tot die wedstryd verbei is.
Die feit dat dit hierdie naweek pa-en-seun was by JBM kon moontlik 'n paar van sy spelers aanmoedig om hul ouers trots te maak.
Alhoewel JBM vroeër die seisoen baie gesukkel het met sy skopwerk, lyk dit of die skopafrigting die laaste ruk begin afbetaal. In die twee wedstryde wat hierdie span verlede week gespeel het, het sy skopper 9/10 deur die pale gejaag en was JBM elke keer hiermee verseker van 'n troef.
Die eind-rondte van die koshuisrugby-liga by Kovsies, wat op 9 September plaasvind, sal sien dat twee uit drie moontlike spanne mekaar pak.
Heimat, JBM en Vishuis is steeds die drie grootstes wat op hierdie titel aanspraak maak. Die wedstryd hierdie, waartydens JBM en Vishuis mekaar gaan pak, sal sekerlik 'n bepalende faktor vir die eindstryd wees.
Uitslae van Kovsies se K1-liga die laaste week:
23 Augustus:
JBM 23 Heimat 22
Vishuis 45 Karee 12
Armentum 53 Veritas 7
26 Augustus:
JBM 17 Karee 10
Heimat 17 Armentum 8
Deur Stefan Lotter














