Driekuns vir Armentum

As enigiemand nou in Armentum se voorportaal instap sal hul drie nuwe toekennings in die troffeekas sien staan.

Armentum het Vrydagaand as die beste span in soveel as drie eind-wedstryde vanaf Shimlapark weggestap.

Dié koshuis, wat nog altyd een is om op die rugbyveld mee te probeer kers vashou, het die derde- (K3) en tweedeliga (K2), asook die K1-plaattitel verower.

Armentum se derdespan het met hul eweknieë van JBM 29-17 afgereken. Hierdie span van JBM was tot-en-met Vrydagaand nog onoorwonne gewees tydens 2011.

Die tweedespan van Armentum het self 'n weghol-oorwinning oor die tweedes van Heimat behaal en hulle 'n 43-12 loesing gegee. Armentum het dus in hierdie stryd geen nonsens gevat nie en ook die eerste punte sowel as die eerste drie van die wedstryd aangeteken.

Armentum se trotse eerstes het egter nie so 'n gemaklike wedstryd beleef nie. Met die begin van die tweede helfte in hul stryd teen die eerstespan van JBM, was Armentum 15-3 agter. JBM het die eerste helfte van dié spel geheel en al gedomineer.

Die gedisiplineerde spel wat Armentum gewys het gedurende die tweede helfte het wel 'n paar geleenthede geskep om die pale op te soek. Dit was dan ook die goeie skopwerk van Armentum se skrumskakel, Jaco Henning (bo, regs), wat hulle stadig maar seker teruggebring het in die wedstryd. Henning het ook die drie gaan druk waarna sy span begin voorloop het.

Die eindtelling was 23-18 vir Armentum.

Deur Stefan Lotter

Joomla Random Flash Module by DART Creations